Die polisie het bewerings ontken dat een van die ondersoekers in die Thabo Bester-saak sy eie lewe geneem het weens ’n SMS wat hy ontvang het.
Netwerk24 berig wyle brigadier Jackson Mkhaulesi, wie hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad in die Vrystaat was, het op Maandag 5 Junie sy lewe geneem, kort nadat hy die hooggeregshof in Bloemfontein verlaat het.
Luidens gerugte was Mkhaulesi ontsteld toe hy daar weg is.
‘n Sosialemediaplasing het kort na sy dood die rondes gedoen, waarvolgens die oorledene na bewering ‘n SMS ontvang wat tot sy selfdood aanleiding gegee het.
Die polisie het sy kommer uitgespreek oor dit wat hy as vals nuus bestempel, en het mense gevra om die plasing nie verder te versprei nie.
Mense na aan Mkhaulesi het gesê hulle twyfel dat die omstrede Bester-hofsaak met die brigadier se tragiese dood verband hou.