Die Presidensie sê die borgskap van bykans een miljard rand aan die
Engelse sokkerklub Tottenham Hotspur, kan nie geregverdig word nie.
President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya sê die
President is nie vooraf oor die borgskapplan van S.A Toerisme ingelig nie,
maar is van mening dat dit nie geregverdig is om dié bedrag op hierdie wyse
te bestee nie. Die omstrede borgskap is gister heftig deur die waarnemende
bestuurshoof van S.A Toerisme, Themba Khumalo, verdedig. Die plan het
hewige reaksie by talle Suid-Afrikaners ontlok wat meen die geld kan te
midde van die huidige maatskaplik-ekonomiese probleme in die land beter
bestee word.
