Die wetsontwerp oor basiese onderwys, of Bela soos dit in die volksmond bekend geword het – is vroeër vanmiddag deur die nasionale vergadering goedgekeur. Die volgende stap is vir die land se eerste burger om dit met sy handtekening tot Wet te bekragtig.
Die omstredenheid oor die aanvanklike stroping van die mag van skoolbeheerliggame om self oor skole se taal- en toelatingsbeleid te kan besluit, is alom as direkte aanval op Afrikaans bestempel. Terwyl hierdie bepaling intussen uit die wetsontwerp geskryf is, is daar steeds talle knelpunte, wat aldus kenners tot ‘n groot aantal hofgedinge kan lei, in pogings om wal teen die Wet te gooi.
Jaco Deacon, hoof van Fedsas, wat Skoolbeheerliggame bystaan, sê terwyl daar steeds haakplekke en baie vrae is wat onbeantwoord bly, bevat die Wet ook uiters voordelige bepalings. Dit sluit onder meer duidelike voorskrifte en definisies van afknouery en die vernedering van leerlinge in.