Die prys van swart goud, oftewel brandstof, kan dalk weer styg sedert die oorlog tussen Israel en Hamas uitgebreek het. Volgens Netwerk 24 kan die vrees dat die oorlog spanning laat opvlam in die Midde-Ooste, waar ‘n derde van die wêreld se ru-olie geproduseer word, die prys nadelig beïnvloed. Die prys van Brent ru-olie het vanoggend tot $88,81 per vat gestyg, wat 4,7% hoër was as Vrydag se sluitingsprys. Brent ru-olie was egter in September hoër op $94,52 per vat en in Oktober 2022 die hoogste vir die jaar op $98,52 per vat. Die oorlog tans in Israel sal nie ‘n rol speel in die prys nie, maar wel as die vyandigheid uitkring na lande in die Midde-Ooste wat olie produseer. Daar is ook die risiko dat Israel op Iran sal wraakneem omdat Iran vir Hamas ondersteun. Iran kan dan besluit om die Hormoes-seestraat, ‘n deurgang vir olieskepe te sluit, soos die land al gedreig het om te doen. Meer as 17 miljoen vate ru-olie word daagliks deur die seestraat vervoer.
