Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die rentekoers onveranderd op 7,5% te laat.
Maroela Media berig die prima uitleenkoers bly dus op 11%. Vier komiteelede het verkies om die rentekoers onveranderd te hou, terwyl twee ten gunste van ’n verdere verlaging van 25 basispunte was.
Die rentekoers is sedert September verlede jaar drie agtereenvolgende kere met 25 basispunte verlaag.
Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het Donderdagmiddag tydens ’n mediakonferensie gesê die komitee het eindelik almal saam op ’n versigtige beleidsbenadering te midde van groot binnelandse en buitelandse onsekerheid besluit.
Hy voeg by die wêreldekonomie is nie op ’n stabiele voet nie en daar is ook binnelandse onsekerhede, wat hierdie gunstige neigings in gevaar stel en dat dit ’n versigtige beleidsbenadering verg.