Die president van die reserwebank, Lesetja Kganyago, het gesê hy is hoopvol dat Suid-Afrika volgende jaar van die gryslys verwyder sal word. Kganyago het gesê dit het die land duur te staan gekom.
Hy het bygevoeg die les is dat gesamentlike pogings nodig is om na die integriteit van Suid-Afrika se finansiele stelsel om te sien en dat die hele land daaronder ly. Netwerk 24 berig Kganyago het op die eerste bedryfskonferensie van die Gedragsowerheid vir die Finansiële sektor, of FSCA, in Johannesburg gepraat. Suid-Afrika is verlede jaar op die lys van lande geplaas wat nie genoeg doen om geldwassery en die finansiering van terreur te voorkom nie.
Die Finansiële Aksie-taakmag het onlangs gesê die grootste probleem is dat daar nie genoeg mense hiervoor vervolg word nie.