Trump is in die boonste deel van sy regter-oorskulp raakgeskiet by ‘n veldtogsaamtrek in die Amerikaanse deelstaat Pennsylvania. ‘n Omstander is doodgeskiet, en nog twee ander mans is ook in gister se aanval gewond. BBC skryf die skieter is kort hierna deur agente van die VSA-geheimediens doodgeskiet. Die Amerikaanse Federale Ondersoekburo hanteer dit as sluipmoordpoging op die 78-jarige Trump. Na die aanval was hy ‘n kort rukkie in ‘n hospitaal vir mediese sorg.
Volgens die AlJazeera-nuusagentskap het Trump pas met sy toespraak begin, toe hy skielik met sy regterhand na sy oor gryp. Beeldmateriaal op sosialemedia wys die oomblik dat hy getref word. Bloed loop teen sy gesig af, en hy koes agter die podium vir skuiling. Agente van Amerika se geheime ondersoekdiens trek dan laer om Trump, terwyl dit steeds koeëls reën. Voordat hulle weg van die toneel af beweeg, steek Trump ‘n gebalde vuis in die lug en skree, “FIght! Fight! Fight!” Ondersteuners doen hom eers na, en dan trek die skare soos een man los met ‘n ritmiese U-S-A. . . U-S-A-dreunkreet.
Die vermeende skieter was volgens CNN ongeveer 150 meter weg van die podium toe die skote begin klap. Die FBI het bevestig die skut het sy aanval van bo geloods, en hy is op die plek waarvandaan die sneller getrek is, noodlottig deur wetstoepassers gewond. Oogetuies het hom kort voor die aanval, glo op die dak van ‘n nabygeleë gebou sien kruip.
Stephan Zunes, politiek-professor verbonde aan die Universiteit van San Francisco, sê mense moenie sommer eie gevolgtrekkings maak oor ‘n motief vir die aanval nie. Volgens hom kan dit tot selfs méér gekheid in die politiek-arena aanleiding gee. Nietemin, sê Zunes, die aanval weerspieël ‘n samelewing waarin dreigemente van politieke geweld toeneem. ‘n Voorval soos hierdie sal waarskynlik ook samesweringsteorieë vanuit linkse en regse geledere ontlok. Statisties word baie VSA-sluipmoordpogings uitgevoer deur mense wat geestesongesteld is, en het nie noodwendig politiek at motief nie.