Die lewens van Eskom se hele bestuurspan is nou moontlik in gevaar.
Jan Oberholzer, bedryfshoof van die nutsmaatskappy, het gesê die realiteit is dat meeste van hierdie hoofde oor vertroulike en sensitiewe inligting beskik.
Hy meen die feit dat hulle te veel weet, kan van die bestuurspan ‘n teiken maak.
Dit is alom bekend dat misdaadsindikate in Eskom-geledere werksaam is om hulle eie agendas ten alle koste te bevorder.
Een van die vasteland se voorste energiekenners, Chris Yelland, het gister gesê dat die onlangse sluipmoordpoging op die uittredende Eskom-hoof, André de Ruyter, ‘n duidelike boodskap van intimidasie wil stuur.
President Cyril Ramaphosa het in reaksie op die aanslag op De Ruyter se lewe gesê dit is vir hom ‘n bron van kommer dat diegene wat standpunt teen korrupsie inneem, geteiken word.
De Ruyter het op 12 Desember sianied ingekry toe hy sy oggendkoffie in sy kantoor by Megawatt-park in Centurion gedrink het.