Volgens die Vrystaatse departement van gesondheid woordvoerder, Mondli Mvambi, is daar geen krisis in Mangaung sedert die uitreiking van die verbodskennisgewing aan die Bloemfonteinse Forensiese Patologiedienste nie.
Die departement het reëlings getref dat die liggame, terwyl die verbodskennisgewing van krag is, na die Welkom-lykshuis geneem sal word. Luidens die departement van indiensneming en arbeid, se inspeksies en toepassingsdienste, spruit die sluiting van die fasiliteit uit ‘n reaktiewe inspeksie wat, verlede week, deur die departement se inspektoraat uitgevoer is.
Die volgende ingrypings is reeds geïmplementeer: ‘n kontrakteur sal aandag gee aan alle defekte in elektriese installasies; geblokkeerde rioolpype word deur loodgietersdienste nagegaan; die dreineringstelsel is deur strukturele ingenieurs ontblok; en mobiele lugversorgers is geïnstalleer om met ventilasie- en onttrekkingsprobleme te help.