Die Ramkraal-projek in die Vrystaat wat aan ernstige wanadministrasie gekoppel word, gaan deur die Spesiale Ondersoek-eenheid, of SOE, ondersoek word. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa twee proklamasies onderteken het vir ondersoeke.
Die ander ondersoek is in KwaZulu-Natal. Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE het in ‘n verklaring gesê die Ramkraal-projek gaan ondersoek word met betrekking tot die verkryging van kontraktering vir goedere asook werke en dienste vir die projek deur die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur asook die departement van menslike nedersetting en die provinsiale wetgewer.
Sowetan Live berig Kganyago het gesê die proklamasie dek bewerings van onwettige en onbehoorlike gedrag wat vanaf 1 Maart 2010 plaasgevind het. Die Vrystaatse regering het R120 miljoen vir die projek bestee waartydens die ou tronk omskep sou word in die nuwe provinsiale wetgewer. Kganyago het gesê enige bewyse wat op strafregtelike optrede tydens die ondersoek dui, sal na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word.