Sakeliga het gesê hy berei nou ook litigasie voor oor die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid wat Dinsdag deur president Cyril Ramaphosa bekragtig is.
Volgens Piet le Roux wie aan Sakeliga se spits staan, laat die nuwe Wet die regering toe om demografiese kwotas aan private werkgewers voor te skryf, of ‘n onderneming nou met die staat sake doen al dan nie.
Sakeliga gaan ook met ander organisasies skakel wat regstappe gaan of wil neem.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, het vroeg vanoggend ten tyde van Rosestad-Soeklig op 100.6FM gesê Solidariteit is oorgehaal vir ‘n
enorme litigasie-lopie teen die nuwe Wet, waarna daar in die volksmond as die ‘rassewet’ verwys word.
Volgens Van der Bijl kan Suid-Afrika die nuwe wetgewing bloot nie bekostig nie, aangesien dit tot gevolg kan hê dat derduisende mense hulle werk kan verloor.
Suid-Afrika worstel reeds met een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld.