Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gaan op 7 Maart haar eerste mosie van wantroue in die gesig staar. Die datum is vanoggend deur die Nasionale Vergadering (NV) se programkomitee vasgestel. Dit volg nadat die EFF ’n klag teen haar ingedien het ná die staatsrede op 9 Februarie. Die EFF sê sy het versuim om regverdig en onpartydig op te tree toe sy veiligheidsdienste in die Kaapstadse stadsaal toegelaat het om hul parlementslede te verwyder tydens ‘n betoging teen president Cyril Ramaphosa.