Kaptein Deon Fourie het sy eerste wedstryd terug in die Stormers-trui gewen. Die Kapenaars het die Lions met 29 – 10 op die DHLstadion geklop. Maroela Media berig In ʼn kragmeting waar al twee spanne gesukkel het om enige rat hoër as vierde (en dan net vir ʼn kort rukkie) te vind, het die Stormers vyf drieë gedruk terwyl die Lions hul eie grootste vyande was.
Die een ongedwonge fout na die ander het die besoekers gekniehalter en toe hulle in die tweede helfte uiteindelik met ʼn bietjie meer woema begin speel het, was dit reeds te laat. Dan praat ʼn mens nie eens van Ruben Schoeman se rooikaartoortreding vroeg in die tweestryd toe hy vir Manie Libbok weggeskouer het nie.
Die Stormers se Joseph Dweba het die eerste drie van die wedstryd gedruk toe hy oor die Lions-doellyn gerammel het. Hy het uiteindelik twee drieë binne die eerste 40 minute gedruk en die tuisspan het ʼn rustydvoorsprong van 15 – 0 geniet.