Talle organisasies het reeds hul stemme dik gemaak oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, of die Bela-wetsontwerp, soos dit alom bekend staan.
Netwerk24 berig die jongste toevoeging tot dié lang lys van teëstanders van die voorgestelde Wetsontwerp, is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die Akademie meen dit sal “roekeloos” wees om openbare skole se taalbeleid in die hande van onderwysburokrate, soos die Akademie dit stel, te laat.
Die Akademie het gesê taalbeleid is deurslaggewend vir goeie prestasie op skool.
‘n String belanghebbende organisasies het ook reeds hul kommer en misnoë oor die Wetsontwerp laat hoor ten opsigte van die toelatings- en taalbeleidswysigings.
Van hulle voel die voorstelle teiken veral wit Afrikaanse skole en glo ook dat die aanvaarding daarvan tot ‘n reuse aantal hofsake kan lei.