Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, of SAPD, is gister deur die arbeidshof in Johannesburg beveel om R300 000 aan kolonel Annemarie Oosthuizen te betaal.
Dié geldsom moet dien as skadevergoeding vir die SAPD se bedenklike hantering van valse klagtes van rassisme in die werkplek.
Maroela Media berig dit volg nadat twee lede van die SAPD Oosthuizen skynbaar valslik daarvan beskuldig het dat sy die k-woord gebruik het.
Dié twee adjudant-offisiere is intussen oneervol uit die polisiediens ontslaan.
Hulle is ook strafregtelik skuldig bevind en is albei opgeskorte tronkstraf opgelê.
Doktor Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê hierdie is waarskynlik die duidelikste boodskap tot op hede, dat vals beskuldigings van rassisme, veral in die werkplek, nie geduld sal word nie.
Volgens hom stuur die bevinding ʼn duidelike boodskap aan werkgewers dat die versuim om teen sulke gedrag op te tree, ernstige regsgevolge kan inhou.