Die multimiljoenrand Estina-saak is in die Bloemfonteinse hooggeregshof van die rol geskrap. Daar word berig regter Celeste Reinders sê vertragings wat deur die staat veroorsaak is, maak dit onredelik om die saak in hierdie stadium voort te sit.
Die geding spruit uit beweerde plundering van die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling tussen 2012 en 2014. Nagenoeg R228-miljoen het na bewering vanaf die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat, na die Guptas se geldkoffers gevloei. Die beskuldigdes is onder meer aangekla van diefstal, bedrog en korrupsie.