Die Universiteit Stellenbosch, of US, se amptelike verskoning oor die verbod wat in 2021 op die gebruik van Afrikaans op sy kampus geplaas is, word wyd verwelkom.
Die US se verskoning volg nadat die Demokratiese Alliansie verlede maand sukses behaal het met die saak wat hy teen die verbod by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aanhangig gemaak het.
Die menseregtekommissie het bevind dat die verbod die menseregte van Afrikaanssprekende studente op vryheid van uitdrukking, taal en kultuur, gelykheid en menswaardigheid geskend het.
‘n 19-jarige US-student wat verlede jaar in Bloemfontein matriek geskryf het, het gesê dit het die hele tyd vir haar gevoel asof sy op haar tong moes byt.
Hoewel sy goed Engels kan praat, is dit vir haar baie makliker om haarself in haar Moedertaal uit te druk.