’n Derde sluis is by die Vaaldam heropen en uitvloei is by die Bloemhofdam verhoog weens hoë invloei en swaar reënval.
Die Departement van Water en Sanitasie het verlede week die derde sluishek gesluit en twee oop gelaat om waterinvloei by die dam te monitor.
Voortgesette reënval het egter die heropening daarvan genoodsaak om die uitvloei van 299,95 kubieke meter per sekonde tot ‘n geskatte 400 kubieke meter per sekonde te verhoog, om die huidige invloei te bestuur.
Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê met meer reënval wat voorspel word, sal die departement voortgaan om die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel invloeiwatervlakke te monitor.