Die Veelparty-handves is daartoe verbind om Suid-Afrika ‘n veilige plek te maak en te verseker dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens genoeg ondersteuning sal ontvang om effektiewe polisiëring te lewer.
Leiers van die handves het vandag die Mfuleni Polisiestasie in die Wes-Kaap besoek om hul plan om misdaad te bekamp bekend te stel. Die handves hou vol dat die professionalisering van die polisiediens die eerste stap is om misdaad te bekamp. Die IVP se Velenkosini Hlabisa het aan die media gesê hulle verwag om dit te doen deur te verseker dat gemeenskaps-polisiëringsforums goeie hulpbronne het. Hlabisa het gesê die handves het ten doel om die polisiediens se befondsing te herprioritiseer om te verseker dat hy genoeg geld het om sy werk te doen. Hy het ook hul plan uiteengesit om kwesbare gemeenskappe te help.