Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, of VN, Antonio Guterres, het tydens ‘n dringende vergadering van die VN se Veiligheidsraad gesê hy is bekommerd dat die konflik in die Midde-Ooste kan lei tot ‘n volskaalse oorlog. Hy het lande gevra om nie met vergeldings teen Iran te begin nie want dit sal verdere spanning laat opbou. Tydens die vergadering het Amerika se adjunk-ambassadeur by die VN, Robert Wood, gesê indien Iran of sy bondgenote teen Amerika optree of verdere stappe teen Israel doen, Iran verantwoordelik gehou sal word.
Iran se ambassadeur by die VN, Amir Saeid Irawani, het gesê sy land se optrede was nodig. Teheran wil nie hê die oorlog moet uitbrei nie en die land is nie van voorneme om in ‘n konflik met Amerika betrokke te raak nie. Irawani het bygevoeg sou Amerika militêre operasies teen Iran begin, sal die land sy reg gebruik om homself te verdedig. Israel se ambassadeur by die VN, Gilad Erdan, het gesê die sluimerknoppie is nie meer ‘n opsie nie. Iran moet ‘n swaar prys betaal vir sy misdade.