‘n Verenigde Nasies-amptenaar het gesê daar is toenemend min wat die organisasie kan doen om die mense van Gasa te beskerm wat probeer skuiling vind teen die huidige gevegte in die gebied. Die amptenaar van die VN-agentskap vir Palestyne, Thomas White, het gesê daar is geen plek in die streek wat veilig is nie. Intussen het die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, voorstelle van ‘n tydelike wapenstilstand met Hamas verwerp. Netanyahu het die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, in Tel Aviv ontmoet om ʼn moontlike tydelike wapenstilstand te bespreek sodat humanitêre hulp aan Gasa verleen kan word. Die BBC berig Netanyahu het aan Blinken gesê ‘n ooreenkoms soos hierdie sal eers gemaak word sodra alle Israeliese gyselaars bevry is.
