Die uitslag van ‘n vergadering wat gister plaasgevind het waar daar onder meer ‘n besluit geneem is oor die toekoms van die premier, Sisi Ntombela, sal binnekort aangekondig word volgens Mxolisi Dukwana, die voorsitter van die ANC in die Vrystaat. Dit volg op berigte dat die Provinsiale Uitvoerende Komitee besluit het om Ntombela te herroep. Sy en nege van die Vrystaat se LUR’e is nie weer tot die komitee van 35 lede herkies nie. Ntombela is in Maart 2018 as premier in die Vrystaat aangestel in die plek van Ace Magashule wat as die ANC se sekretaris-generaal verkies is. Sy het twee weke gelede die wedloop om die provinsiale leierskap aan Dukwana afgestaan. Die ANC-jeugliga in die Lejweleputswa-streek vra dat sy afgedank word sodat Dukwana haar kan vervang.
