Die vreugdesvure oor Pappie Mokoena van die Afrikan Alliance of Social Democrats-party se verkiesing tot eerste burger van die Mangaung-metro, is in ‘n kits geblus.
Dit volg nadat die ANC ’n tussentydse bevel in die hooggeregshof in Bloemfontein bekom het, om vir eers ‘n stokkie voor sy aanstelling te steek.
Iemand moet nou skynbaar môre reeds gekies word om in Mokoena se plek waar te neem, terwyl die hof besluit of sy aanstelling wettig is al dan nie.
Opposisieraadslede wil weet waarom dit so dringend is dat dit môre reeds moet gebeur, terwyl die hof nog sy beslissing moet gee. Mokoena is die eerste uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro uit opposisiegeledere sedert 1994.
Hy is tien dae gelede, op 14 April, as burgemeester gekies.