’n Konferensie om die Vrystaat vir plaaslike en buitelandse beleggers aanloklik te maak, gaan skynbaar veral infrastruktuur en mynbou onder die vergrootglas plaas.
Die moontlikheid bestaan reeds dat 400 miljoen rand in die Phakisa-renbaan buite Welkom belê gaan word.
Dit aldus Thabo Meeko, Vrystaatse LUR vir die departement ekonomiese, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake.
Meeko het Vrydag in Kroonstad gesê dat hulle vol vertroue is dat dié geldinspuiting, wat in die ekonomie van Matjhabeng ‘n groot hupstoot sal gee, ‘n werklikheid sal
word.
Volgens Meeko word beleggers ook genader om die gebied wat aan die renbaan grens, te ontwikkel.
Hierdie planne sluit onder meer ‘n konverensiesentrum in.
Beleggers word ook genader om staatsbestuurde vakansieoorde en die Welkom-lughawe van totale verval te red.
Die gewoeker om sake in die gebied weer te laat gedy, het ook ten doel om honderde werksgeleenthede te skep.