Meeste paaie in die Vrystaat het onrybaar geword het, het LP’s van die Nasionale Raad vir provinsies, of NRP, en Vrystaatse wetgewerslede tydens ‘n toesigbesoek aan infrastruktuur in die Vrystaat Dinsdag gesien. Die LUR vir Paaie, Maqueen Letsoha-Mathae, het erken die pad tussen Kroonstad en Steynsrus is steeds vervalle, terwyl ‘n regsgeding met die kontrakteurs aan die gang is. Die Vryheidsfront Plus se Armand Cloete, het gesê bykans R300 miljoen is reeds aan Sedtrade betaal terwyl geen konstruksie aan die pad gedoen is nie. Die DA-leier in die Vrystaat, Roy Jankielsohn, het gesê die R26-pad van Ladybrand tot in Bethlehem verby Ficksburg, Fouriesburg en Clocolan is in ‘n haglike toestand. Hy het gesê wanneer beplan word om paaie in die Vrystaat reg te maak, moet na roetes gekyk word en nie net stukkies pad reg te maak nie. Van die paaie is belangrik vir landbou en toerisme. Jankielsohn het gesê die groot probleem is kontrakteurs wat aangestel word en nie die projekte voltooi nie hoewel die geld opgebruik is. Die Vrystaatse regering onderhandel tans met Sanral om herstelwerk aan paaie soos die R26, R74 en R34 oor te neem.
