*** Die Vrystaat sal na verwagting môre ‘n provinsiale energiesekerheid-indaba by Pacofs, die ou Sand du Plessis-teater, in Bloemfontein hou. Die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, het die beraad in Oktober aangekondig en gesê meer as 500 afgevaardigdes van regoor die land wat ministers, adjunk-ministers en premiers insluit, sal die indaba bywoon. Die fokus sal op hernubare energie wees wat projekte vir werkskepping is, het Mxolisi gesê. Die beraad het ten doel om volhoubare energie vir die provinsie te vind en te verseker. Die beraad sal gebruik word as ‘n aantrekkingskrag vir energie-investering asook samewerking tussen die regering, die private sektor en sommige instellings van hoër onderwys. Die beraad het ook ten doel om die impak van beurtkrag te verminder, elektrisiteitsinfrastruktuur te verbeter en onwettige verbindings, kabeldiefstal en vandalisme te bekamp.