Joelia Nawalnaja, weduwee van die Russiese opposisie-leier, Aleksi Nawalni, sê pres Wladimir Poetin tree nie soos ‘n politikus op nie maar eerder soos ‘n mafiabaas. Nawalnaja het gister die Europese parlement in Straatburg in Frankryk toegespreek en lede gewaarsku om nie met Poetin te probeer onderhandel nie.
Sy het volgens die Washington Post gesê Poetin kan nie seergemaak word met resolusies of sanksies nie. Die strategie moet eerder wees soos om ‘n misdaadbende te beveg en metodes toe te pas om georganiseerde misdaad te bekamp. Sy het gesê lande moet ondersoek doen na finansiele komplotte en soek na mafia-medewerkers in verskeie lande wat Poetin en sy vriende help om geld weg te steek. S
y het Europese leiers gevra om saam met Russe te werk wat teen die oorlog is en in die buiteland woon. Sy het bevestig haar man word Vrydag in Moskou begrawe te midde van ‘n streng polisie teenwoordigheid.