Die wêreld se grootste sonkrag-aangedrewe voertuig het koppe in Bloemfontein laat draai, toe dit as deel van ‘n bewusmakings-reis om die wereld, in die stad kom stop het.
Netwerk24 berig Walter Koepel en Martin Baumeler karwei die SolarButterfly, wat soos ‘n skoenlapper lyk, oor Suid-Afrika, om te wys dat die oorgang van fossielbrandstowwe na skoon hernubare energie en ander tegnologieë moontlik is.
Die voertuig, wat uit verskeie sonpanele bestaan, is ‘n prototipe wat deur studente van die Universiteit van Luzern in Switserland gebou is.
Die span beoog om teen Desember oor ses vastelande en 90 lande te reis. Volgens Koepel is die gebruik van sonkrag een van die oplossings om klimaatsverandering te stuit.
Hy is ook van mening dat Suid-Afrika die ideale land is om sonkrag te gebruik, aangesien die land soveel sonskyn het.