Die amptelike werkloosheidsyfer in Suid-Afrika het in die vierde kwartaal van 2023 tot 32-komma-een persent toegeneem. Na agt kwartale waarin die aantal Suid-Afrikaners met werk toegeneem het, het dit einde verlede jaar met 22-duisend mense gedaal.
Statistieke Suid-Afrika het vroeër vandag die kwartaallikse arbeidsmagopname vrygestel. Volgens die data het die aantal werklose persone met 46-duisend tot sewe-komma-nege miljoen toegeneem. Suid-Afrika het nou 11,7 miljoen mense wat nie werk het nie, maar beskikbaar is vir werk. Die land se werkloosheidsyfer vir die derde kwartaal was 31-komma-nege persent. Die opname meet die arbeidsmarkaktiwiteite van mense tussen 15 en 64 jaar.