Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-toesig en Gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het ‘n hommeltuig aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, of SANParke, oorhandig om op Tafelberg te gebruik. Dit volg op die onlangse oorhandiging van hommeltuie aan die Kaapse Wynland-, Overberg-, Tuinroete- en Weskus-distriksmunisipaliteite.
Die hommeltuie sal help met misdaadbekampingsaktiwiteite. Allen sê die hommeltuig sal SANParke toelaat om ʼn groter reikwydte te hê, met ‘n bykomende oog in die lug oor die berg, hange en staproetes. Dit volg na talle voorvalle waartydens stappers op verskeie staproetes op Tafelberg aangeval en beroof is. Allen sê die regering sal voortgaan om veiliger ruimtes vir inwoners te skep deur moderne tegnologie te gebruik.