Die Wêreldgesondheidsorganisasie het 22 metrieke ton voorrade gelewer om die Cholera-reaksiepogings in Zimbabwe ‘n hupstoot te gee. Die land sukkel met ‘n Cholera-epidemie sedert dit in Februarie verlede jaar uitgebreek het. Die siekte het na alle provinsies in die land versprei en ‘n noodtoestand is afgekondig. Minstens 160 mense is sedert die uitbreking begin het, dood. Bloomberg berig die aanvang van die skooljaar in Zambie is met drie weke uitgestel weens cholera wat reeds meer as 4-duisend infeksies sedert Oktober verlede jaar gehad het. 150 mense is dood. IOL berig Suid-Afrika se departement van gesondheid het na aanleiding van die cholera uitbrekings in buurlande gesê siftingstoetse word gedoen by grensposte tussen Zimbabwe en die land. Reisigers moet ook bedag wees op die simptome van die siekte sodat dit nie na Suid-Afrika versprei word nie.