Dit was seker maar pure opgewondenheid wat gemaak het dat President Cyril Ramaphosa oënskynlik “vergeet” het dat Ierland se rugbyspan die Springbokke gedurende die Wêreldbekertoernooi geklop het.
Ramaphosa het die Bokke vanoggend by die Uniegebou in Pretoria ontvang en het volgens Netwerk24 gedurende sy toespraak deurgaans na die land se rugbytrots as “onoorwonne” verwys.
Ná Pretoria is die oopbus-toer op pad na Johannesburg, Soweto, Kaapstad, Durban en Oos-Londen.
Bloemfonteiners sal egter maar geduldig tot iewers in 2024 vir die Bokke en die beker moet wag. Inwoners van Nelson Mandelabaai is in dieselfde bootjie.
Politici en sakelui meen Gqeberha moes voorkeur geniet, aangesien die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, die assistentafrigter, Mzandile Stick en die direkteur van rugby, Rassie Erasmus, almal uit dié omstreke afkomstig is.
Daar sal volgens Saru, eers volgende jaar reëlings vir toere na Bloemfontein en sekere ander plekke in die land getref word.