Let asseblief daarop dat die volgende inligting sekere lesers kan ontstel:

‘n Woordvoerder van die polisie het gesê die inligting is verkeerd, dat ‘n verdagte skynbaar reeds in hegtenis geneem is in verband met die moord op drie mense by ‘n dagsorgsentrum in Bloemfontein.

Die slagoffers se liggame is gisteroggend in ‘n huis in Van Heerdenstraat in Wilgehof gevind.

‘n Bron na aan die ondersoek het aan Rosestad-nuus gesê die manier waarop die drie vermoor is, dui daarop dat dit waarskynlik die werk van meer as een misdadiger is.

Al drie slagoffers is met nooddienstewerkers se aankoms op die toneel dood verklaar.

Die verdagte, of verdagtes, was moontlik aan die oorledenes bekend.

Hoewel ‘n skootrekenaar en ‘n onbekende bedrag geld glo vermis word, is dit onbekend of roof die motief vir die moorde is.

Die slagoffers is volgens ‘n betroubare bron met slot en ketting vasgemaak, alvorens hulle wreedaardig vermoor is.

Die man het gesê hy het kort na gisteroggend se gru-ontdekking by die misdaadtoneel opgedaag, en het nooddienstewerkers van ‘n elektriese saagtoestel voorsien om die slotte en kettings te verwyder.

Intussen doen die Vrystaatse polisiediens ‘n uiters dringende beroep op mense om nié op sosiale media – of elders – oor die Wilgehof-moorde te bespiegel, of om skinderpraatjies te versprei nie. Mense met sinvolle inligting, wat met die ondersoek kan help, moet kaptein Sebata Mosema by 082-526-2713 skakel.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×