Vrystaat Landbou, of VL, sê boere in die provinsie is raadop met die toenemende diefstal van mielies. Die Veiligheidsverteenwoordiger van VL in die Allanridge/Odendaalsrus-omgewing, Rudi Jansen van Vuuren, sê daar is beslis ‘n toename in dié soort diefstal. Hy sê van die boere betaal tot R200 000 vir veiligheidswagte om hul landerye te bewaak maar misdadigers oordonder die veiligheidswagte.
Van Vuuren sê daar was al gevalle waar tot 15 mense deur ‘n taxi afgelaai word en later weer opgelaai word. VL sê ander gebiede word ook geraak asook plase naby die Lesotho-grens waar sakke mielies snags op donkies gelaai word. Weinig oortreders word in hegtenis geneem terwyl boere van mening is dat dit as ‘n georganiseerde misdaad geklassifiseer moet word.