Mandisa Maya word met ingang 1 September hoofregter van Suid-Afrika, en sal die eerste vrou wees om hierdie posisie te beklee. Die Regterlike Dienskommissie het haar as hoofregter aanbeveel, nadat sy in Meimaand deur president Cyril Ramaphosa vir die amp benoem is.
Die pos van hoofregter word einde Augustus vakant wanneer Raymond Zondo se ampstermyn eindig. Zondo, voorheen adjunkhoofregter en voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, is twee jaar gelede as hoofregter aangestel. Die 60-jarige Maya dien tans as adjunkhoofregter van Suid-Afrika.