Met warmer weer en die reënseisoen wat op pad is, word dit weer tyd vir mense om lig te loop vir bosluise.
‘n Skerp toename in ernstige bosluiskoorsgevalle, asook sterftes, is verlede somer aangemeld. Dokter Freek Bester, Bloemfonteinse internis, het toe aan Volksblad gesê waar daar normaalweg ongeveer een pasiënt per week opgeneem is, het toelatings verlede somer die hoogte ingeskiet.
By LifeRosepark-hospitaal alleen, is gemiddeld ses tot sewe pasiënte per week opgeneem. Simptome sluit koors, spier- en gewrigpyn, erge hoofpyn, sensitiwiteit vir lig en braking in. Ernstiger komplikasies sluit vertigo, uiters lae bloeddruk, floutes, erge bloedarmoede, inperking van die lewer- en nierfunksie, bloedklonte, longontsteking en die dood in.
Mense wat vermoed hulle het bosluiskoors moet so gou moontlik mediesesorg bekom.
Daar is voorheen berig die komediant Casper de Vries kon eers weer optree, nadat hy drie jaar tevore bosluisbytkoors opgedoen het. Hy het aan Netwerk24 gesê hoewel hy deurgaans mediese behandeling kry, wil dit nie wyk nie. De Vries het sy terugkeer tot die verhoog gemaak met ‘n eenpersoonstuk, Semi-lewendig, wat juis oor sy lewe in die nare nadraai van bosluiskoors gaan.
Hy het met die gehoor gesit en praat omdat hy te swak was om te staan. De Vries sê sal die res van sy lewe medikasie moet neem.