Nie een van die vyf respondente, waaronder die departement van korrektiewe dienste, wat Oscar Pistorius se aansoek na die Grondwethof teenstaan, het Vrydag hul opponerende eedsverklarings, die dag van die afsnydatum, ingedien nie. Hulle moes redes verskaf hoekom Pistorius nie direkte toegang tot die konstitusionale hof kan kry nie. Conrad Dormehl, Pistorius se prokureur, het dit vanoggend aan Netwerk 24 bevestig. Barry Steenkamp, die pa van die Reeva Steenkamp wat deur Pistorius doodgeskiet is, en sy vrou, June het nie die aansoek teengestaan nie. Barry Steenkamp is intussen Donderdagaand oorlede. Pistorius dien ‘n vonnis van 13-jaar en vyf maand uit vir die moord op Reeva Steenkamp op Valentynsaand in 2013. Pistorius het in Augustus die grondwethof genader en voer aan hy kom in aanmerking vir parool, maar word nie toegelaat om daarvoor aansoek te doen nie.
