Die dodetal in die ramp nadat ‘n woonstel-gebou vroeër die week in George ineengestort het, was teen vanoggend dertien mense. Dit nadat nog ‘n liggaam omstreeks half drie deur reddingswerkers uit die puin verwyder is. Veertig mense word steeds vermis.
Netwerk 24 berig die George-munisipaliteit het intussen gevra vir beraders om na vore te kom wat families van slagoffers en oorlewendes kan bystaan in die tale Shona, Portugees en Chewa. Een-en-veertig van die 81 mense wat Maandagmiddag op die toneel was, is gered terwyl 13 nog in die hospitaal is. Reddingspanne werk steeds in die hoop om slagoffers lewend onder die meer as 3-duisend-ton bourommel te vind.