Sowat 270 van die meer as 800 gekwalifiseerde maar werklose dokters het aanstellingsbriewe gekry.
Dit is luidens die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, wat tydens vraetyd in die parlement gesê het teen die einde van Maart behoort al die aanstellings afgehandel te wees. Die Departement van Gesondheid in die Vrystaat adverteer tans posisies vir 12 dokters.
Die nasionale departement het vroeër begrotingstekorte aangevoer as rede waarom soveel jong dokters nie werk het nie. Verlede maand het die minister van Finansies, Enoch Godongwana in sy begrotingsrede gesê ‘n bykomende R3,7 miljard sal beskikbaar gestel word sodat die Gesondheidsdepartement sy personeelprobleme kan oplos.