Dr Nandipha Magudumana, die minnares van die vermeende Facebook verkragter en moordenaar, Thabo Bester, het gister ‘n klag van aanranding by die Parkweg-polisiestasie geopen. Volgens ‘n verklaring van die polisie se woordvoerder in die Vrystaat, brigadier Motantsi Makhele, beweer Magudumana dat sy in die departement van Korrektiewe Dienste se vroue-gevangenis in Kroonstad aangerand is waar sy glo in die hospitaal-afdeling opgeneem is. Makhele het gesê die saak sal oorgeplaas word na Kroonstad se speurtak vir verdere ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Magadumana sou gister saam met Bester en die ander verdagtes vir sy ontsnappingsaak in die landdroshof in Bloemfontein verskyn, maar sy het flou geval en het in die polisieselle agtergebly.