Die polisie ondersoek drie klagte van moord, nadat die liggame van die oorledenes ‘n kort rukkie gelede onder raaiselagtige omstandighede in ‘n huis in Wilgehof in Bloemfontein aangetref is. Rosestad-nuus het van ‘n betroubare bron verneem nooddienste-personeel het die slagoffers op die toneel dood verklaar. ‘n Onbekende, maar na bewering groot bedrag geld, word skynbaar ook vermis. Die forensiese ondersoek het pas begin. Die verdagte of verdagtes is moontlik aan die oorledenes bekend, aangesien daar geen teken is dat iemand by die huis ingebreek het nie. Terwyl roof in hierdie stadium ‘n moontlike motief vir die moorde is, sal ander motiewe ook ondersoek word. Sover bekend is niemand nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie. Dit is ook nie bekend of die polisie na een of meer verdagtes soek nie.
