Drie lede van die Harley Davidson-klub in Bloemfontein sterf

Covid-19 het Woensdag ‘n derde lid van die Harley Davidson-klub in Bloemfontein geëis.

Dr Johan Hattingh, hoof van die departement toerisme by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, SUT, in Bloemfontein, is in die ouderdom van 57 oorlede.

Die ander lede van die groep, wat vroeër ook die stryd teen Covid-19 verloor het, is die sakeman Jacques Groenewald, en Louis van Niekerk, ‘n geohidroloog.

Hulle is albei verlede week oorlede.

Hattingh was ook die voorsitter van die Vriende van die Oorlogsmuseum, en volgens Netwerk 24, ‘n welbekende toergids van Bloemfontein, wat die stad op die punte van sy vingers geken het.

Dit is intussen dag 498 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Die nuwe minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, die direkteur-generaal dr. Sandile Buthelezi, en ‘n paneel deskundiges het vanoggend om halfagt die media toegespreek oor die regering se bydrae in die stryd teen Covid-19, asook die nasionale inentingsprogram.

13 777 nuwe infeksiegevalle en 458 sterftes is oor die afgelope 24 uur in Suid-Afrika gerapporteer.

Luister na potgooie hieronder