Twee buitelanders betrokke by ‘n winkel in Reddersburg in die Vrystaat is vir die beweerde mensehandel van ‘n 14-jarige seun, wat glo as ‘n kinderwerker gebruik is, in hegtenis geneem.
Luidens ‘n verklaring deur die Valke is een van die verdagtes glo die slagoffer se neef.
Volgens die Valke het die Departement Binnelandse Sake en die Reddersburg-polisie ‘n operasie in Reddersburg uitgevoer toe die minderjarige in ‘n winkel aangetref is waar hy na bewering as skoonmaker gewerk het.
Sy maandelikse loon van R1 000 is glo aan sy neef in Bloemfontein betaal. Die winkeleienaar is onmiddellik in hegtenis geneem.
Die twee ander mans – naamlik die slagoffer se 35-jarige neef en ‘n 30-jarige man wat na bewering die indiensneming van die kind gefasiliteer het – het reeds voor die Reddersburg landroshof op aanklagte van mensehandel verskyn.
Die saak is tot 29 April uitgestel.