‘n Privaat veiligheidsmaatskappy in Verulam in die noorde van Durban het afgekom op die liggame van drie mense wat dood is in ‘n brand in ‘n meubelfabriek. Blykbaar was daar nege mans aan diens in die fabriek toe die brand Vrydagaand uitgebreek het. Vier werkers het ongedeerd aan die brand ontkom, terwyl een met brandwonde in die hospitaal opgeneem is. Een persoon word nog vermis. Die woordvoerder van die Rusa-veiligheidsmaatskappy, Vinodh Singh sê die slagoffers was buitelanders. Hy sê die omstandighede wat tot die brand gelei het, is nog nie duidelik nie. Die polisie ondersoek die saak.