Drie mense, insluitend ‘n 4-jarige seun, het gesterf in ‘n motorongeluk in die Oos-Kaap nadat ‘n bakkie en ‘n 7-sitplek-voertuig reg van voor gebots het.
Eyewitness News berig die ongeluk het Maandagoggend 9 Desember 2024 naby Butterworth plaasgevind, en ses ander mense is met ernstige beserings na die hospitaal geneem.
Die woordvoerder van vervoer in die Oos-Kaap, Unathi Binqose, het bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag geopen is.
Die LUR vir vervoer in die Oos-Kaap, Xolile Nqatha, doen ook ‘n beroep op padgebruikers om die verkeersreëls na te kom sodat ongelukke soos kop-aan-kop-botsings voorkom kan word.
Binqose voeg by dat ‘n provinsiale klopjag oor die naweek tot amper 50 inhegtenisnemings gelei het, waarvan die meeste vir dronkbestuur was.