Drie verdagtes wat vermoedelik deel is van ‘n blouligbende wat rooftogte op die N3 tussen Villiers en Heidelberg uitvoer, is deur lede van ‘n multi-dissiplinêre taakspan doodgeskiet. Polisiewoordvoerder, brig Brenda Muridili, sê die polisie het inligting opgevolg oor die modus operandi van bloulig-rooftogte met ‘n Toyota-bakkie.
Die verdagtes is Sondagaand op die N3 by Grootvlei in Mpumalanga opgespoor. Na ‘n jaagtog, het die verdagtes op die polisie geskiet waarna drie verdagtes doodgeskiet is. Een van die verdagtes het van die toneel gevlug. Die polisie het beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens asook ammunisie, ‘n bloulig en die verdagtes se voertuig.