Drie verdagtes is aangekeer nadat ‘n fietsryer doodgeskiet is in die Olifantsfontein-omgewing. Lt Kol Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê die 58-jarige slagoffer is die naweek doodgeskiet terwyl hy saam met sy swaer en dié se seun gaan fietsry het. Die fietsryers is deur vyf verdagtes in ‘n wit Toyota Avanza voorgekeer en volgend Masondo het die verdagtes op die drie mans losgebrand en hulle van hulle fietse beroof. ‘n Koeël het die 58-jarige man in sy bolyf getref en hy is op die toneel dood. Die drie vermeende rowers het op nog fietsryers toegeslaan en ook hul fietse asook geld en selfone geroof. Die polisie en sekuriteitsbeamptes het die verdagtes twee kilometer van die misdaad vasgetrek en inhegtenis geneem. Daar word vermoed die verdagtes is deel van ‘n sindikaat in Gauteng wat fietsryers teiken.