Die vermoorde Ds Liezel de Jager se man, Werner, is vandag buite die landdroshof op Amanzimtoti uitgejou waar ‘n klein skare mense bymekaar gekom het. Die verdagte se borgtogaansoek het laat vanoggend begin.
Maroela Media berig Joanne Herbst van Elders Voice KZN, het buite die hof gesê Ds Liezel was geliefd en het baie vir die gemeenskap gedoen. Herbst het gesê baie bejaardes wat uit haglike omstandighede gered moes word, is deur die vermoorde predikant en haar gemeente bygestaan. Plakkate met die woorde, “geregtigheid vir Liezel” en “geen borgtog, bly in die tronk” is by die hofingang staangemaak. Die groep betogers het ook geel blomme by hulle gehad.
Julie Kruger, ‘n jarelange kennis, het gesê dit was Ds Liezel se gunsteling kleur. Sy het die vermoorde predikant as ‘n lieflike mens wat vol blydskap was, beskryf. Luidens die staat het Werner, haar dood haarfyn beplan en ook lewenspolisse in haar naam uitgeneem. Sy is in Oktober 2021 buite haar huis vermoor. Die saak duur voort.