Die vermoorde ds Liezel de Jager se ouers, Henk en Salomé van Zyl, is verlig en verheug dat hul skoonseun, Werner, nie gister borgtog toegestaan is nie. Aktiviste teen geslagsbaseerde geweld het gesê die vermoorde Liezel het Donderdag ‘n stem gehad toe landdros Zama Nyuswa die borgtogaansoek geweier het.
Die 45-jarige De Jager staan tereg op moord met voorbedagte rade en twee aanklagte van bedrog. Netwerk 24 berig Nyuswa het in haar uitspraak gesê sy bevraagteken De Jager se weergawe wat die oggend van die moord gebeur het. Sy het verder bevind hy is ‘n vlugrisiko en dat hy moontlik met getuies kan inmeng sou hy vrygelaat word. Die staatsaanklaer, Gayle Greyling, het gesê die uitspraak is ‘n oorwinning vir vroue en dat alle vroue nee kan sê vir mishandeling in verhoudings.