Nagenoeg ses-duisend van die Poskantoor se meer as elf-duisend werknemers sal afgelê moet word en nog 400 takke sal gesluit moet word om te oorleef. Die Poskantoor wil ook die uitbetaling van Staatstoelae stop. Volgens Netwerk 24 is dit minder winsgewend vir die Poskantoor omdat meer mense verkies om hul toelaes by winkels te ontvang. Lang rye by die Poskantoor ontmoedig ook meer winsgewende klante, soos dié wat hul motorlisensies wil hernu. Die voorgestelde sakereddingsplan is verlede week uitgereik. Die Poskantoor se krediteure moet op 7 Desember hieroor stem. Indien minstens 75% van die krediteure nie vir die plan stem nie, sal die Poskantoor gelikwideer moet word of ‘n ander plan die lig sien.